• 012 346 5227 / 5606
  • emails@slerouxattorneys.co.za

Proses – Afr

Ons wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om die algemene proses en verloop van ‘n eis teen die Padongelukfonds soos hanteer deur ons kantore aan u te verduidelik:

 

  1. Sodra al die dokumentasie wat benodig word om die eis te registreer by die Padongelukfonds ingesamel is van die SAP en dokters en die nodige Statutêre Mediese Verslagingevul is deur die eerste behandelende dokter,by die eerste hospitaal of kamers waar u behandel is, word die eisdokumente voorberei en aan die Padongelukfonds voorgelê.

 

  1. Die kostes van uitgawes word deur ons kantore namens u gedra en word die uitgawes dan terug ontvang en gehef wanneer die aangeleentheid afgehandel word. Alternatiewelik sou u ons mandaat op enige stadium beëindig voordat ons in die posisie is om die aangeleentheid af te handel sal u verantwoordelik wees vir al die fooie en uitgawes, welke betaalbaar sal wees binne 14 (veertien) dae vanaf beëindiging van die mandaat. ‘n Volledige rekening word aan u voorgelê, die afslag daarvan op is in ons diskressie.

 

  1. ‘n Individu wat beseer is in die motorongeluk en wat wil vergoeding eis van die Padongelukfondsmoet onder andere die volgende bewys en aantoon:

 

  • Dat hy/sy in ‘n motorvoertuigongeluk betrokke was op ‘n Suid-Afrikaanse pad en beseer is as gevolg van die nalatigheid van een of meer van die bestuurders betrokke in die ongeluk.

 

  • Hierdie aspek wordna verwys as die meriete van die aangeleentheid en sal hanteer word in ‘n aparte verhoor, die meriete verhoor.

 

  1. Die meriete van ‘n aangeleentheid word gefinaliseer en afgehandel, óf deur ‘n verhoor met ‘n uitspraak, alternatiewelik deur skikking, met ander woorde die Padongelukfonds aanvaar aanspreeklikheid vir die gevolge van die beserings wat opgedoen is en dat u daarin geslaag het om te bewys dat u inderdaad voldoen aan al die vereistes om te kan slaag met ‘n eis teen die Padongelukfonds soos bovermeld inparagraaf 3.1 en 3.2.Hierdie eise word gereguleer en beheer deur die Padongelukfondswet en die Regulasies daartoe. Aksie sal ingestel word in die Hooggeregshof en moet die Hooggeregshofwet en reëls en prosedures in ag geneem word en van gebruik gemaak word en aan gehoor gegee word ten einde sukses te behaal.

 

  1. Vir die eiser om egter te kwalifiseer vir die algemene skade komponent van ‘n eis (pyn en lyding geld) moet die eiser die Padongelukfonds verder tevrede stel deur middel van regsmediese verslae opgestel deur mediese kundiges wat bekend is met die regulasies en die AMA (American Medical Association) tabelle waarvolgens beserings geklasifiseer en gekwalifiseer word. Sodanige mediese deskundiges sal u dan evalueer en in terme hiervan rapporteer aan die hof en sy of haar opinie lug rakende die erns van u beserings en ook die nodige vorms invul, genoem ‘n RAF4  eisvorm.

 

 

  1. Sou die dokter bevind dat u beserings u wel kwalifiseer vir ‘n toekenning van algemene skade, word die Padongelukfonds die geleentheid gebied om die besluit te betwis. Tot op die stadium waarop die Padongelukfonds die verslag aanvaar, alternatiewelik en/of die feit aanvaar dat u beserings u kwalifiseer vir algemene skade, sal sodanige feit in dispuut bly en indien die opinie van ‘n dokter verwerp word stel die regulasies voor, dat die dispuut verwys word na die Departement Gesondheid (HPCSA) ten einde ‘n proses te administreer, waar ‘n paneel dokters ‘n besluit neem of die beserings inderdaad ernstig is of nie.

 

  1. Tydsperiodes, voorskrifte en bepalings waarbinne sekere stappe geneem moet word of tyd wat toegelaat moet word bestaan in beide die wetgewing en die regulasies. Die eiser en sy regspan moet egter verseker dat die nodige stappe geneem word op die regte tyd en binne sodanige tydsperiodes, na elke tydsperiode waarin die eiser ‘n besluit neem en/of ‘n aksie uitvoer, het die verweerder (Padongelukfonds) op hulle beurt geleentheid om op sodanige stap te reageer en ondersoek in te stel.

 

  1. So byvoorbeeld, word die Padongelukfonds vier (4) maande gegun na die registrasie of indiening van ‘n eis by die Padongelukfonds om die eis te ondersoek alvorens enige verdere stappe geneem kan word.

 

  1. Na afhandeling deur skikking en/of verhoor van die meriete van enige aangeleentheid kan die eiser voortgaan met die tweede hof proses genaamd die kwantum (wat handel oor die hoeveelheid en omvang van die vergoeding waarvoor die eiser kwalifiseer.)

 

Die kwantum van ‘n eis kan in meeste gevalle slegs bewys word deur gebruik te maak van die verskeie dokters se opinies en deur die daarstelvan mediese verslae deur sodanige mediese deskundiges, en aktuarisse welke dan gebruik word om onder andere die volgende skade hoofde te bewys:

 

  • gelede mediese uitgawes en die regverdigheid daarvan;
  • die moontlike toekomstige mediese uitgawes en die omvang daarvan;
  • gelede verlies aan inkomste en die vraag of dit geregverdig was dat die eiser nie ‘n inkomste verdien het nie en of dit gekoppel kan word in ‘n regstegniese kousaleverband met die beserings;
  • toekomstige verlies aan verdienste wat moontlik gely kan word as gevolg van die beserings wat opgedoen is en die feit dat die eiser ‘n moontlike werksinperking ly as gevolg daarvan;
  • algemene skade (soos bo bespreek).

 

  1. Sou die eiser daarin slaag om te bewys dat hy/sy toekomstige mediese uitgawes sal moet aangaan vir behandeling van die gevolge van beserings opgedoen in die motorvoertuigongeluk onder bespreking sal sodanige eiser dan kwalifiseer om ingesluit te word in die Padongelukfonds se “mediesefonds” onder Artikel (17)(4)(a)van die Padongelukfondswet, en sal die eiser nie ‘n lompsom geldelike toekenning ontvang nie, maar ‘n insluiting in sodanige mediesefonds. Die Padongelukfonds onderneem hierin om enige toekomstige mediese uitgawes te betaal soos en wanneer dit aangegaan word. Die voordeel van hierdie sisteem is dat die eiser hulp sal verkry in die toekoms vir die behandeling wat benodig word en kan die eiser behandeling aanvra by dokters en hospitale van sy/haar keuse.

 

Waar die eiser egter gevind word om by te dra tot die plaasvind van die ongeluk en/of die benadeling wat hy/sy mag ly sal daardie persentasie waaraan hy bevind word aanspreeklik te wees afgetrek word van die geldelike toekenning en/ofkwantum en ook toepassing vind op ‘n inperking ten opsigte van die toekomstige mediese behandeling wat die eiser sal ontvang van die persentasie van uitgawes wat deur die Padongelukfonds gedra sal word.

 

  • Ons verseker u dat alles in ons vermoë gedoen sal word in die beskerming van u regte, sou u enige verdere vrae hierin hê, is u welkom om die vrae op skrif of telefonies te rig. Ons onderneem om u op hoogte te hou van die proses vorentoe en om sover as wat dit in ons beheer is, u altyd tydiglik in te lig van enige afsprake.

 

U sal deurlopend op hoogte gehou word van vordering in u eis.